Studie op verticillium verwelk

Byadmin

Studie op verticillium verwelk

Grondgedraagde swamme veroorsaak Verticillium verwelk, Verticillium dahliae, Verticillium albo-atrum en Verticillium tricorpus. Deur die jare is kultivars egter ontwikkel wat weerstand het teen Verticillium albo-atrum, en Verticillium tricorpus word as ‘n minder agressiewe organisme beskou, dus is die hoof veroorsakende organisme Verticillium dahliae.

Hierdie spesie kan egter in twee rasse onderskei word ten opsigte van ‘n weerstandsgeen bekend as die Ve geen. Verticillium dahliae ras 1 is vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeteken in 1989 en tamatie kultivars is daarna geteel vir weerstand teen hierdie ras.

Daar het egter ‘n tweede ras ontstaan bekend as V. dahliae ras 2 en daar is tans geen kultivar beskikbaar wat weerstand teen hierdie ras het nie.

Die aalwurm, Pratylenchus penetrans, kom voor in assosiasie met V. dahliae in verskeie ander gewasse. Daar is gevind dat hierdie letsel aalwurm en die verwelkingswam mekaar komplimenteer as hulle saam voorkom en dat dit lei tot ’n toename in simptome en groter oesverliese.

Kenmerkende simptome van Verticillium verwelk is vergeling van blare van die plant wat onder begin en dan op teen die plant versprei soos wat die siekte verder ontwikkel. Die blare kan ’n kenmerkende V-simptoom ontwikkel soos wat die blare nekroties word van die punt af. As die stam van die ge-afekteerde plant oopgesny word, is die vaatweefsel heeltemal bruin verkleur en dit is dan dié blokkering van die vaatweefsel wat lei tot die verwelksimptome en moontlike afsterwing van die plant en gevolglike oesverlies.

Die siklus van Verticillium verwelk begin in die grond waar die swam oorleef as dormante oorlewingstrukture bekend as mikrosklerotia. Mikrosklerotia kan in die grond oorleef in plantreste of in grond wat braak lê, vir ‘n tydperk van tot 15 jaar. In ander gewasse is daar ‘n sterk ooreenkoms gevind tussen die vlakke van mikrosklerotia en die hoeveelheid verwelkingsiekte wat voorkom sowel as die intensiteit van die siekte. Daar is egter nog baie min navorsing gedoen om die hoeveelheid mikrosklerotia te verbind met die hoeveelheid siekte en die intensiteit van siekte in tamatieplante en om drempelwaardes te bepaal vir die siekte. Daar is wel in Amerika gevind dat ‘n vlak van ses mikrosklerotia per gram grond daartoe gelei het dat 100 persent van die plante in daardie betrokke land Verticillium verwelk ontwikkel het. Hierdie was egter net een studie en baie meer navorsing sal onderneem moet word voordat ‘n akkurate drempelwaarde verkry kan word.

Die Landbounavorsingsraad (LNR) onderneem tans ’n studie waarin die kwantifisering van V. dahliae en aalwurms van die genus Pratylenchus uit grondmonsters ondersoek word. Die inligting sal gebruik word om drempelwaardes te verkry teen watter vlakke beheer toegepas moet word en geskikte beheermetodes sal ondersoek word.

Tradisioneel word vlakke van mikroskerotia in ‘n betrokke grondmonster bereken deur middel van kunsmatige groeimedia en verskillende sifmetodes van die grondmonster oor die groeimedia. Volgends hierdie tegniek word elke mikrosklerotium wat ontkiem op die groeimedium getel en so word bereken wat die vlakke in die oorspronklike grondmonster was. Die tegniek neem egter baie lank omdat die kulture baie stadig groei en gedurende die sifprosesse kan van die mikrosklerotia verlore gaan wat lei tot foutiewe resultate. Boonop word minder aggresiewe patogene soos V. tricorpus ook verkeerdelik getel met die tegniek.

Met die moderne tegnologie bestaan daar nou baie meer akkurate prosesse wat vinnig die hoeveelheid mikrosklerotia in ‘n betrokke grondmonster kan kwantifiseer. Hierdie tegniek behels die ekstraksie van die DNS (deoksiribonukleïensuur) van die V. dahliae uit die grondmonster en die DNS word dan met die hoeveelheid mikrosklerotia gekorreleer. Sodoende kan daar, deur middel van ‘n DNS ekstraksie en ‘n daaropvolgende tegniek, bekend as ‘n kwantitatiewe intydse PKR, bepaal presies wat die vlakke van mikrosklerotia per grondmonster is. Presies dieselfde tegniek kan gebruik word met aalwurms waar hierdie meer moderne tegniek ook geïmplementeer kan word om te kwantifiseer hoeveel aalwurms van ‘n spesifieke genus soos Pratylenchus in ‘n betrokke grondmonster teenwoordig is. Hierdie kwantifiseringstegniek kan in die tamatielande geïmplementeer word deur verskeie grondmonsters te versamel en die vlakke van V. dahliae en Pratylenchus spesies te bepaal en te koppel met die hoeveelheid verwelking wat ontwikkel in die land en die invloed wat dit op die oes het. So kan drempelwaardes vir siekte ontwikkel en oesverliese kan dan bepaal word deur ook omgewingsfaktore soos grond tipe, klimaat en ander wat ? rol speel in siekte-ontwikkeling in ag te neem.

Sodra ‘n drempelwaarde ontwikkel is, is daar ‘n beter aanduiding van wanneer dit nodig is vir beheer om toegepas te word in ‘n betrokke land en met die kwantifiseringstegniek kan die betrokke beheermetode ook vir effektiwiteit getoets word, deurdat daar bepaal kan word of die hoeveelheid mikrosklerotia afneem na ‘n spesifieke beheermetode. Omdat die betrokke veroorsakende organismes van die siekte in die grond voorkom, is daar geen chemiese blaarbespuitings wat die siekte sal beheer nie, en dus is voorplant grondberoking met chemiese stowwe, soos metielbromied, metam sodium en mengsels van chloropikrien en 1,3-dichloropropeen, baie in die verlede gebruik om die siekte te beheer. Chemiese grondberoking is egter baie skadelik vir die omgewing en daar is altyd ‘n gesondheidsrisiko daaraan verbonde wanneer die middel toegedien word. Verder is dit dikwels nie ? koste effektiewe beheermaatreël in oopland tamatieproduksie nie.

Beheermetodes wat gedurende hierdie studie oorweeg word, fokus egter baie op grondgesondheidheid en volhoubare landboutegnieke, naamlik anaerobiese grond disinfestasie. Hierdie metode behels die inwerk van maklik afbreekbare organiese materiaal in die grond wat dan met plastiek bedek word. Anaerobiese toestande word in die grond geskep deurdat die grond natgemaak word tot veldwaterkapasiteit voordat dit met die plastiek bedek word. Gedurende die anaerobiese toestand is daar ‘n verskeidenheid van reaksies wat in die grond kan plaasvind. Die organiese materiaal kan afgebreek word en ‘n toksiese vlugstof vrystel wat die mikrosklerotia of doodmaak of ontkieming daarvan inhibeer.

Nog ‘n reaksie wat kan plaasvind, is gevind, dat die toediening van organiese materiaal ook die mikrobiese populasie in die grond verander en in sommige gevalle kan daar ‘n toename van organismes wees wat na-tuurlike vyande van V. dahliae is. Hierdie tegniek is nog nie op Verticillium verwelk van tamaties getoets nie, maar wel op ander gewasse en baie suksesvolle resultate is verkry.

About the author

admin administrator

Leave a Reply